Wenke vir boere: 

Word ’n bondgenoot vir ons bloukraanvoëls  

Soos die bloukraanvoël se natuurlike habitat krimp, word die bydrae van boere al belangriker in die stryd om die spesie vir die toekoms te bewaar. Deur sensitiewe bestuur, kan boere en bloukraanvoëls nie net vreedsaam saamleef nie, maar in ’n verhouding staan wat wedersydse voordele inhou.

Agtergrond: Hoekom die Overberg? 

Vandag kom meer as die helfte van alle bloukraanvoëls in die Overberg voor, maar ons gebied vorm eintlik nie deel van hul oorspronklike habitat nie. Hul natuurlike grasveld-habitat – meestal in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Gauteng, die Vrystaat en Oos-Kaap – is weens ontwikkeling radikaal ingeperk en die voëls moes aanpas om elders te oorleef.  

Die bewerkte landerye van die Overberg en Swartland blyk ’n gepaste alternatief te wees, aangesien dit as’t ware “kunsmatige grasvelde” vorm. 

Ons plase is die ideale blyplek vir ’n bloukraanvoël, want: 

  • Hulle kan maklik met hul lang bene deur lae plantegroei veral stoppellande – deurstap om kos op die grond te soek.  
  • ’n Boomlose habitat laat vir die voëls genoeg ruimte om op te styg, en maak dit makliker om roofdiere raak te sien. 
  • Bloukraanvoëls slaap gereeld in vleie, damme of riviere – waterbronne wat volop is op ons plase. 

Die Overberg is nou die middelpunt van dié spesie se bevolking. Dit beteken ook die bloukraanvoël se voortbestaan is grootliks afhanklik van die betrokkenheid van plaaslike boere as die beskermhere van die spesie. 

Verstaan die voëls

Om kraanvoëlpopulasies doeltreffend te bestuur, is dit belangrik om die voëls se behoeftes en motiverings te verstaan. Vra dus eerste: Waarna is die voëls op soek?  

Hetsy dit betroubare voedselbronne of veilige broeiplek is, sal die antwoord op dié vraag u help om ’n oplossing te bedink waarby u én die voëls baat vind. 

Die belangrikste vereiste is egter dat alle oplossings veilig moet wees – vir u én die kraanvoëls, maar ook vir die breër ekostelsel. 

WENK #1 – WAAK TEEN VERGIFTIGING 

Vergiftiging – opsetlik of per ongeluk – is ’n ernstige bedreiging vir bloukraanvoëls. As u gif teen insekte of knaagdiere inspan, kan u ’n paar stappe neem om die veilige en versigtige gebruik daarvan te verseker:

 

  • Streef daarna om slegs veilige, bioafbreekbare produkte op u landerye te gebruik. Deeglike navorsing kan u help om ingeligte besluite hieroor te neem. 
  • Belê in opleiding vir plaaswerkers sodat gifstowwe altyd noukeurig volgens die streng gebruiksvoorskrifte hanteer word. 
  • Kontroleer die stoor en gebruik van gifstowwe om te verhoed dat dit gesteel of ontoepaslik gebruik word. Onthou, dit is onwettig om wild met landbougifstowwe van kant te maak. 
  • U kan ook u algehele gifstofgebruik probeer verminder deur alternatiewe plaagbestrydingsmetodes te ondersoek. Oorweeg biobeheer deur natuurlike insekvreters of plant houtpale om roofvoëls te lok na gebiede waar knaagdiere ’n probleem is. 
  • Rapporteer asseblief alle vergiftigingsgevalle – selfs wanneer dit soos ’n ongeluk lyk – aan die Overberg Kraanvoëlgroep: support@bluecrane.org.za of per selfoon: 066 289 5988. Of EWT se Wildlife Poisoning Report Line (011 486 1102 / uitbreiding 221). 

WENK #2 – HOE WILDER, HOE BETER 

Hoe beter die voëls deur die natuur ondersteun word, hoe minder sal hulle van u boerdery afhanklik wees vir oorlewing. Hier is ’n paar oorwegings waardeur u die voëls kan aanmoedig om wilder te lewe: 

  • U kan strategiese besluite neem om brokkies van natuurlike veld – veral grond wat moeilik beboubaar is – onbewerk te laat en bufferstroke te skep om die natuurlike veld te laat herstel. Die uitroei van uitheemse plante sover moontlik help ook om ’n gesonder habitat te skep. 
  • Ekologiese korridors kan gevestig word sodat voëls en wild gemaklik kan rondbeweeg. Boonop bestaan ’n groot deel van bloukraanvoëls se dieet uit insekte en klein soogdiere wat in korridors voorkom. Dié korridors is die effektiefste as dit breër as 100m is, naby waterlope of paaie lê, en oor plaasgrense heen strek. 
  • Laat inheemse plantegroei tot teenaan waterbronne groei. Dit versterk die oewers, filtreer water en bied beskerming vir diere. 
  • Hou in gedagte dat toepaslike brandbeheer ook deel vorm van gesonde veldbestuur. Die OCG deel graag raad en leiding in dié verband. 

WENK #3 – BROEITYD-BESKERMING 

Voëls is op hul weerloosste wanneer hulle broei of rus, en bloukraanvoëls maak dikwels nes in landerye of naby water. In dié tye kan u hulle help beskerm: 

  • Probeer sover moontlik om die versteuring van broeiplekke – deur mense, vee en troeteldiere – te verhoed. As u ’n nes teëkom, merk die area sodat u nie per ongeluk oor die eiers ry of die broeipaar of kuikens verwilder nie. Dié raad geld vir die kuikens se hele veertyd – d.w.s. tot hulle groot genoeg is om te vlieg, na hulself te kyk en die nes te verlaat. 
  • Leer werknemers en kinders om nie kraanvoëlkuikens te vang nie. Dis belangrik dat almal verstaan dat dié voëls in die natuur hoort en nie as troeteldiere aangehou of verkoop moet word nie. 

WENK #4 – DINK AAN WATER 

Bloukraanvoëls sal van die beskikbare infrastruktuur gebruik maak in hul soeke na water en loop daarom die risiko van verdrinking. ’n Paar praktiese stappe kan hulle hierteen help beskerm: 

  • U kan bakstene of groot klippe in watertrôe en -kanale pak sodat kuikens wat inval maklik self kan uitklim. 
  • Los plaashekke sover moontlik oop sodat kuikens maklik by waterbronne kan uitkom. 
  • Onthou dat bloukraanvoëls gereeld in water slaap, so u kan vleilande, waterlope en vloedvlaktes beskerm deur die dreinering, opdamming, uitgrawing of opvulling daarvan te vermy. 
  • Werk versigtig sodat chemikalieë of groot hoeveelhede bemestingstof nie in waterbronne uitloop nie. 

WENK #5 – HOU DOP 

Een van die grootste gevare vir bloukraanvoëls is botsings met krag- of telefoondrade. Sulke versperrings is nie altyd sigbaar nie en daarom is die voorvalle dikwels noodlottig. Dit gebeur veral by drade wat naby slaapplekke voorkom. 

  • Wanneer u op u grond rondbeweeg, wees asseblief op die uitkyk vir dooie of beseerde voëls naby kragdrade.  
  • As u strukture identifiseer wat moontlik gevaarlik kan wees, kan u probeer om dit self te beveilig deur sigbare materiaal – soos merkers, verf of vlaggies – aan te bring.  

Wees ook op die uitkyk vir kraanvoëls met gekleurde ringe aan hulle bene. Dié voëls se trekgewoontes word nagevors as deel van EWT se kraanvoëlbewaringsprogram.  

  • Maak asseblief ’n aantekening van die kleurringkombinasie aan elke been – linker- en regterbene asof u self die voël is – en stuur die inligting aan die SA Ringing Unit (SAFRING) by die Universiteit Kaapstad (safring@birdmap.africa of besoek safring.birdmap.africa). 

WENK #6 – WERK SAAM 

Bewaringswerk is altyd meer suksesvol wanneer dit ’n georganiseerde, verenigde projek is: 

  • U kan sensitiwiteit vir bewaring onder u werknemers en kollegas help kweek deur hulle attent te maak op die bedreigings wat bloukraanvoëls – en ander spesies – in die gesig staar. Dit sal help dat niemand diere onnodig beseer, vang of doodmaak. 
  • Moedig u werknemers aan om waarnemings van wilde diere op die plaas, lewend of dood, aan u te rapporteer. 
  • Bewaringsgroepe het ’n oorvloed kennis en hulpbronne tot boere se beskikking. Moenie skroom om u vrae of probleme met kenners te deel nie – dis die beste manier om inligting en praktiese raad uit te ruil. U kan dit ook met u bure en ander boere bespreek. 

Soos met alle verhoudings in die natuur, kan die saambestaan van boer en kraanvoël ook soms ingewikkeld raak. Bloukraanvoëls kan ergernis veroorsaak wanneer hulle ’n boer laat skade ly. 

Bloukraanvoëls en gewasse 

Boere is soms bekommerd dat bloukraanvoëls hul oes kan benadeel. Dit is waar dat die voëls hulle tot ontkiemende saad en jong saailinge in landerye sal wend as ander kos skaars is, maar opnames toon duidelik dat hulle dit verkies om in stoppellande of weivelde te wei. Hulle beweeg byna nooit in landerye in waar graan hoog staan nie. 

As u egter bekommerd is oor u graanlande, kan ’n aanpassing in boerderymetodes oorweeg word. Wisselbou en ’n kombinasie van graan- en veeboerdery skep ’n meer stabiele habitat vir voëls, omdat die diversiteit van die landskap dwarsdeur die jaar voeding bied. Dit behoort die voëls meer selfonderhoudend te maak, en die voedselsekerheid sal hulle ook aanmoedig om te broei. 

 

Bloukraanvoëls en veevoer 

Aangesien bloukraanvoëls omnivore is, bied voerbakke dikwels ’n aanloklike opsie vir ’n maklike maaltyd. Veral in die wintermaande as kos skaars is, vergader die voëls soms by voer wat vir skape of beeste uitgesit is. Hulle eet ook groot hoeveelhede vlieg- en wurmlarwes wat uitbroei in die dieremis rondom voerplekke en die voer wat langs bakke gemors word. 

Die beste manier om dit te voorkom, is om die voëls te verjaag sonder om hulle te beseer. Elke metode het voor- en nadele: 

  1. ’n Fisiese versperring rondom voerbakke kan die voer beveilig, maar omdat die voëls maklik verstrengel raak in draad of baaltou is dit belangrik om die duidelik sigbare, veilige heinings op te rig. Een manier om dit te doen, is om seker te maak dat dinge wat ’n risiko van verstrikking inhou nie rondlê nie.  
  1. Visuele afweerders – soos wapperende lint, weerkaatsende vlaggies of voëlverskrikkers – is ook ’n effektiewe opsie. Die voëls raak dikwels gewoond daaraan en materiaal moet dus gereeld afgewissel word. 
  1. Geraasmaaktoestelle – soos kanonne – kan ook die voëls verjaag, maar hulle kan ook mettertyd daaraan gewoond raak. Dit kan ook u vee versteur. 

BRONNE: 

Harrison, J. & Young, D. 2010. Boer vir die toekoms: boer volhoubaar met die natuur. Animal Demography Unit, Kaapstad. 

 Austin, Jane E., Morrison, Kerryn L., and Harris, James T., editors. 2018. Cranes and Agriculture: A Global Guide for Sharing the Landscape. Baraboo, Wisconsin, USA: International Crane Foundation. 303 p.